root of bitterness

Daar was onlangs 'n ouer in my kantoor wat raad-op en moedeloos was oor haar jong volwasse kind wat haar nie wil vergewe nie. Die pragtige vrou, Elma, het 'n geskiedenis van drankmisbruik, twyfelagtige verhoudings met mans en 'n plofbare humeur. Daar het egter 'n dag gekom dat sy tot bekering gekom het. Ja, met die genade van die Here het sy 'n radikale omkeer gemaak en sy streef om haar lewe aan God te wei.

Elma se dogter se woede het egter baie vlak onder die vernis van goeie maniere gelê. Die spanning tussen die twee is so dik soos 'n broeiende Transvaalse donderstorm.

Hoe gemaak as iemand jou nie wil vergewe nie?

 Vergifnis is nie iets van 'n mens van iemand kan eis nie. Jy kan daarvoor vra, want dit is nie iets wat aan jou verskuldig is nie. Vergifnis is 'n geskenk. Elma se dogter nie verplig is om haar te vergewe.

Sommige verhouding is so beskadig dat dit lyk of daar geen raad of hoop is nie. Dit lyk asof party verhoudings so onherstelbaar geskend is dat daar geen emosionele energie oor is om mee te woeker nie.

Vir die doel van die artikel fokus ek op Elma se situasie, want sy het nodig om haar dogter die ruimte te gee om te rou oor wat verlore geraak het in haar kinderdae. Haar dogter mag moontlik lank neem voordat sy sal glo dat Elma tot inkeer gekom het, want daar was vorige, soortgelyk episodes wat nie lank gehou het nie.

As jy, soos Elma, stoei om iemand se vergifnis te ontvang is dit nodig om te onthou dat elkeen het nodig om hul eie heil uit te werk (Fil. 2:12 – Ou Vertaling). Elkeen het nodig om verantwoordelikheid te neem vir wat in die hart omgaan. Dit beteken dat daar goed in die lewe is wat 'n mens moet belei, ophou doen en agter laat. As jy iemand seergemaak het vra vergifnis en bid vir die genesing wat deur God se liefde en genade kom.

'n Gebrek aan vergifnis gaan soms hand-aan-hand met emosionele manipulasie. Manipuleerders het die vermoë om jou te laat glo dat jý die een met die probleme is. Hulle kan jou oortuig dat dit beter met hulle sou gaan as jy op 'n spesifieke wyse sou optree. Dit is moeilik om raak te sien as iemand wat jy baie goed ken jou emosioneel uitbuit en afkraak. Emosionele manipulerende verhoudings word gekenmerk deur die volgende:

  • Persoonlike aanvalle op jou karakter.
  • Blaam en verwyte.
  • Vernedering en beskuldiging.
  • Sarkasme, kru taalgebruik en verdraaiing van jou woorde.
  • Speel altyd die rol van die slagoffer.
  • Onvoorspelbare emosionele ontploffings (trane of woede).
  • Harde, onregverdige en onrealistiese krities.
  • Intimidasie.
  • Stilstuipe of weiering om 'n saak enigsins te bespreek.

As jy aan die ontvangkant staan van iemand se onvergifnis of manipulasie, is dit belangrik dat jy na jou eie hart moet kyk. Haal diep asen en stop die gedagtes wat onophoudelik deur jou gemoed storm. Jy is nie verantwoordelik vir enige ander mens se geluk nie. Jy is wel verantwoordelik om heil en verhouding met God uit te werk. Dit is 'n goeie punt om by 'n berader aan te klop vir raad en gebed.