
Gemengde boodskappe van ouers en onderwysers maak dit moeiliker vir kinders om afknouery en boeliegedrag te hanteer.
Aan die een kant word kinders geleer om “mooi te speel met die maatjies”. Daar word na alle kinders verwys as “maatjies”.
Wanneer die maatjie of maatjies die kind afknou en boelie, is die eerste opdragte “los daardie kinders uit” of “slat hom terug”. Die opdragte is in skrille teenstelling met die beginsel van “mooi speel”.
Kinders is van nature “people pleasers”. Die kind wat geboelie word, sal waarskynlik nog harder probeer om die “maatjies” se guns te wen en om aanvaar te word. Vir kinders is dit baie belangrik om, tot ‘n mindere of meerdere mate, aan ‘n groep te behoort.
Die soeke na aanvaarding en guns werk gewoonlik nie. Met die gevolg dat die kind wat geboelie word die skuld in die problematiese verhoudinge vat. Die kind glo “dit is my skuld”, omdat ek nie mooi gespeel het nie of omdat ek nie daardie kinders uitgelos het nie.
Op hierdie dooie punt is die problematiese situasie dat die kind se gemoed deurdrenk is met skuld, skaamte en magteloosheid. Die kind word dan oorweldig deur magteloosheid wat kan groei tot depressie.
Boeliery, afknouery en bullebakkery is ‘n sistemiese probleem wat die hele gemeenskap raak en dus ‘n gemeenskapspoging verg om dit te bestuur en te staak.
As jy vermoed dat jou kind afgeknou word of jy word in die werkplek geboelie, kry hulp om die situasie te hanteer. Boeliery gaan nie net sommer weg nie. Wanneer die boeliery gestaak is, moet die slagoffer ook gehelp word om emosioneel gesond en wyser te word.
Inter Trauma Nexus is toegewyd om mense te help om trauma agter die rug te kry.
Versoek Meer Inligting Boeliegedrag oor persoonlike afsprake of vir detail oor aanbiedings deur Dr Barbara Louw by jou skool of gemeenskapsorganisasie.
Foto: www.pexels.com