Stres en ontnugtering is so oud soos die mensdom. Jesus het Sy medelye vir ons swaarkry getoon deur ons te leer hoe om Sy Koninkryk te soek. Hy sê:
“Daarom wil Ek julle uitnooi: Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek. “Kom luister na wat Ek vir jou oor jou lewe wil leer. Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê. “Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef. “Dis nie moeilik om so te leef nie; om die waarheid te sê, as jy so begin leef, sal jy agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees” (Matteus 11:28-30 DB).
Ontdek die ongedwonge ritmes van God se genade sodat jy lig en vry kan lewe.
Mattheüs 6:33 - Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word
My gebed. HERE, ek soek U en nooi U om die Middelpunt van my lewe te wees. Dankie dat U my vrygemaak het van skuld, skaamte en vrees. Dankie dat U genade spontaan en vrygewig deur my lewe vloei. Vader, ek bid dat daar 'n honger na U Woord sal kom en 'n verlange om aan U Koninkryk te behoort in ons pragtige land. Ek erken dat U die enigste hoop vir ons nasie is. Dankie dat die Heilige Gees vir ons intree wanneer ons nie weet hoe om te bid nie. Amen.

Wy jou lewe aan God toe.