Die belangrike les uit Dawid se lewe is dat hy nie weggehardloop het van sy gevoelens nie. Hy het sy moedeloosheid en hartseer by die naam genoem en hom tot God gewend. Dawid begin en eindig met hoop en afhanklikheid van God. Sy begeerte na God is soos dors: 'n noodsaaklike behoefte, nie net 'n handjievol emosies nie. Jou emosies is deel van jou. Elke gevoel wat jy ervaar het 'n funksie en 'n doel. God se liefde is groter as ons emosies en uitdagings.
Psalm 42:4 DB - Al wat ek op die oomblik doen, is huil. My hele lewe is een groot stuk hartseer. Alles binne-in my skeur wanneer slegte mense vir my sê: “Nou waar is jou God dan? Hoekom help Hy jou nie?”
My gebed. Hemelse Vader, ek loof U Heilige Naam. U is die HERE! U goedheid en genade het geen einde nie. Dankie dat ek my gevoelens en emosies voor U kan stel en U kan vra om genesing te bring waar ek dit nodig het. Salf my asseblief met die Heilige Gees, in die Naam van Jesus. Amen.

Plaas jou hoop op Hom en loof Hom weer!